Die ironie in die sosiale leer
- Ena
- Mar 26, 2019
- 3 min read
Blaricum, die gedeelte waar ek woon, bestaan uit twee dele. Die eerste gedeelte, Oude Blaricum, spog met eg Nederlandse huisies wat 'n fietsrit deur die strate soos 'n music video laat voel. Die tweede gedeelte, Nieuwe Blaricum, is méér deel van Huizen, 'n volgende dorpie, as wat dit van die eerste gedeelte van Blaricum is, maar tog is die onderskeid tussen Huizen en Blaricum baie belangrik omdat jou Blaricum-adres jou sosiale status met so paar punte opstoot. Al eet jy elke aand 'n blik tuna in Blaricum, is dit steeds beter as 'n hotel in Huizen. Ek woon in Nieuwe Blaricum, maar ek moes darem nog nooit 'n blik tuna vir aandete eet nie!
Een van die kinders se aktiwiteite is in Oude Blaricum. Terwyl die een dan by 'n maatjie speel, vervoer ek die ander een met ons staatmaker Gazelle Cabby bakfiets (sien foto) na Oude Blaricum. Ek is nie 'n voorstander van tyd wat onbenut verbygaan nie (relatief tot omstandighede), daarom sny ek my tyd altyd só fyn dat ek net betyds is om hom af te laai. Nou goed, ons is elke week sover nog op tyd, en al kom ons elke keer 13h59 daar aan, sit hy 14h00 waar hy moet wees.
In hierdie 50 minute waar hy aan die aktiwiteit deelneem, gebruik ek die eerste 10 minute om die fiets te sluit omdat ons nie tyd het om dit te doen wanneer ek hom aflaai nie. Deur dit alles, gepantser deur sewe lae klere, hyg ek na my asem en probeer dink waar ek ten minste één van my baadjies kan los sodat ek dit nie saam met my hoef te dra nie. Die volgende 40 minute gebruik ek om my restaurant cappuccino vir die week in te kry.
Hierdie week, die laaste week van my 7 maer jare, gebruik ek my laaste 66c om 'n Vanilla Coke Zero te koop. (Ek is darem weer intussen betaal). Ek wil so half vir my iewers sitplek kry, maar ek kan nie my Albert - Heijn (Nederland se Pick n Pay) invat by 'n restaurant en verwag hulle gaan vir my 'n glas aanbied nie. Om een of ander duistere rede, reën dit ook altyd op die dag wat ek na Oude Blaricum toe moet ry, so ek lyk nogal soos die oorsaak van al die "geen bedelaars"-bordjies wat winkeleienaars ophang om steurnis te verminder.
Met my Vanilla Coke Zero, my gesig wat lyk soos die hoofsanger van Greenday, en my oorfone soos 'n savage in my ore, sien ek 'n parkiebank. Natuurlik probeer ek 'n mooi foto neem sodat ek op Instagram die foto kan post met die caption "Parkiebank, Winter 2019" (sinspeel op FPK se Parkiebank, Herfs 2017). Die lig speel nie saam nie, die asblikke in die agtergrond spoil bietjie die prentjie, en links van die parkiebank stal Kruidvat (Dischem in Suid-Afrika) die volgende uit:
Van deze week is de uitverkoop op toiletpapier begonnen.
8 Stuks voor €1.99!
Nadat ek van alle kante probeer het om 'n goeie foto te neem, vang my oog 'n ma en haar dogter wat soos Steve Hofmeyr by 'n Afriforum byeenkoms deur die strate van Oude Blaricum loop. Ek besef ek is nou al seker vir 20 minute op my hurke besig om 'n goeie foto te neem. Die ma en dogter stop effe, kyk, en loop aan. Hulle dink seker ek is van Huizen.
Ek het uiteindelik maar opgegee om 'n goeie foto van die verdomde parkiebank te neem, en ek bevind myself weer snel op pad om die oudste te gaan oplaai. Nét betyds kry ek hom, en ek pak die pad aan na Nieuwe Blaricum. Snaaks genoeg, net toe ek by die dorp uitry, stap die einste ma en haar dogter by Kruidvat uit. 'n Mens mis nie só goeie deal op toiletpapier nie, al bly jy in Blaricum.




Comments