top of page
Search

Die Antwoord

  • Writer: Ena
    Ena
  • Mar 15, 2019
  • 3 min read

Updated: Jun 15, 2019





Gelowigheid in Nederland is net soos dit in ander lande behoort te wees, 'n keuse. In Suid-Afrika, en ek weet ek is besig om 'n lekker veralgemening te maak, word mens amper in hierdie keuse gebore. Geloof is geneig om eerder 'n tradisie te word as 'n leefstyl. Eers word mens gedoop, wat jou dan bind aan 18 jaar se toewyding aan die kerk ten opsigte van kerkgang, sondagskool en natuurlik ook belydenis van geloof, of jy nou wil of nie... Gedurende hierdie tydperk leef mens maar so tussen die Tien Gebooie en dit wat jou ouers vir jou leer. Niemand vra jou of jy gelowig is nie. Die antwoord is voor die hand liggend - jy is 'n Christen. In Nederland bestaan hierdie sisteem rondom Christenskap nie regtig nie. Jy word nie met 'n lepel geloof ingevoer nie, jy "pak" die lepel self.


Interessant genoeg woon ek in die deel van Nederland wat bekend is as die "Bijbelbelt". Hierdie strook inwoners word geken aan hulle gelowigheid (hierdie belt is deur die verloop van tyd natuurlik verslap), tog bestaan hier vier verskillende NG-kerke. Ek was verlede Sondag by die een naaste aan my huis, gewoon omdat dit behoorlik gereën het en die rit met die fiets gevoel het soos die langste stort wat ek al ooit gehad het.


Die diens het soos die klassieke NG-diens in Suid-Afrika verloop, maar daar was iets anders aan die gemeentelede. Ten spyte van die geweldige reën en die groot versoeking om 'n Sondag op Netflix deur te bring, was die kerk vol. Soos nat honde, met 'n kakofonie van 'n gekefferye soos almal hoes, het almal kwylend gewag op die Woord van God. Lojaal, vriendelik en opreg.


Ná die diens was ek na 'n Bybelstudie aand genooi waar iemand my die huis kom op- en aflaai het, want die weer was nie in my guns nie. Met my aankoms was ek in die huis verwelkom. Die gasvrou het almal gedien deur hulle jasse te neem en 'n koppie koffie of tee aan te bied. Daarna het sy vir elkeen 'n sny kwarktert gegee, en ons het so tussendeur informeel gesels oor die behoeftes en leemtes in die kerk en van die gemeentelede, nie om te skinder nie, maar om mekaar in kennis te stel sodat daar vir hulle gebid kan word. Lojaal, vriendelik, opreg.


Ek ervaar baie oomblikke waar ek na aan die huis voel, maar dáar was dit anders. Hierdie huis het amper meer "huis" gevoel as die huis in Suid-Afrika. Later het party met 'n bier, ander met wyn, sommige met 'n derde koppie koffie, gesit en gesels oor die fenomeen "roeping". Luanne het vertel van soveel mense wat vir haar sê het dat hulle net nog nooit ervaar het dat die Here hulle geroep het nie. "Zij wachten hun hele leven om geroepen te worden".


Vryheid om te wees wie jy wil wees word van kleins af ingeboor. Die kinders word van twee strominge vertel: Die teorie dat die mens bloot deel is van 'n "cosmic singularity", en dan die "teorie" dat God die wêreld gemaak het, waarop 7-jarige Floris díe vraag gestel het: "Maar wie het dan vir God gemaak?". Flip.


Soms dink ek ek moet dankbaar wees dat ek deel is van die Suid-Afrikaanse sametrekking wat maar sleepstert kerk toe gaan. Dit vereenvoudig jou wil om te glo, omdat jy bloot nie iets anders ken nie, daarom is dit ook makliker om blindelings binne en buite die grense van geloof te wandel, want jy is bekend met die idee dat iemand vir jou wag tot jy terugkeer na die kern van wie jy behoort te wees - dit waarvoor jy geroep is.


Ek is só bekend met hierdie blindelingse wandeling. Daar was 'n tyd waar ek die grense van my geloof gebruik het as 'n springtou, net soos dit my pas. Alhoewel hierdie tyd nou ook verby is, bestaan daar steeds die moontlikheid that I'll take a walk on the wild side again, want soms jaag die vraag "wat is jou roeping" jou verskillende hoeke in, maar vir nou hou ek vas aan die wete dat die feit dat mens soek, is eintlik die roep - lojaal, vriendelik, opreg.

 
 
 

1 commentaire


anepike
26 avr. 2019

Van hierdie kant af lyk dit asof jou roeping beslis iets met skryf te doen het. Gieniet jou posts ongelooflik!

J'aime
Home: Blog2

Kontak

Your details were sent successfully!

Home: Contact

Ena Stegmann

Ek is die blogger. Halo!

Ek het in 2018 klaargemaak het met my graad in BA Kommunikasiekunde: Media & Joernalistiek by UFS. Ek is tans 'n au pair in Blaricum, Nederland en alhoewel ek net drie lesers het, kan ek myself nou ook 'n blogger noem. Ek het myself kniediep in millennial millieu gevind, en het besef dat al manier hoe ek hierdie deel van my gaan own, is om tong in die kies te skryf oor die amper quarter life crisis waarin ek myself bevind. Mag jy uit my foute leer, daaroor lag en jouself op die skouer klop omdat jy tans besig is om iets te lees en nie Youtube videos stream nie.

Ok?

Lekker lees!

44931BA6-5D4C-4228-AE43-DC5A20838738.jpg
Home: About
bottom of page